

| Uit Melkbos | |||
Entry for August 26, 2008 ![]() Middag (vir oulaaas) uit Sabiepark
HUIS TOE MET 'N MANDJIE SOOS MIN
Ons pak op vir die huis toe gaan Donderdag met meer as die gewone mandjie herinneringe – en ook ‘n groter verskeidenheid – na amper twee maande in die bos.
Ek gaan huis toe ook met ‘n buitengewone vrag foto’s wat in albums gesorteer moet word. ‘n Yslike werk daarmee lê voor. Dat na al die jare se Sabiepark-kuiers, seker omtrent 25 keer, die kameravinger steeds honderde kere jeuk, getuig van al die wonderlike dinge wat die eerste keer of opnuut gesien en beleef is.
Die kleinkinders is hoog op die lys van foto-onderwerpe. Vanselfsprekend.
Die tweeling was ‘n derde keer hier. Met hul entoesiasme, geselsies, sêgoed, ywerige hulp met die kosmaak en ander bydraes tot die samesyn was hulle vir Oupa en Ouma tot soveel plesier dat hulle weer genooi is vir Desember – om dan die swembadjie ook te kom ontdek.
Michael het ‘n eerste, onvergeetlike boskuier agter die blad. Tokkie en Mariza het reeds berig oor Michael se “driekuns”: skokdraad, watergat, stoeptrappies. Ek dink die groot diere met hul kolle en strepe, lang nekke en slurpe, sterte en tande, moes op sy tweejarige gemoed net soveel merke gelaat het as die bos op sy tweejarige lyfie. Hopelik is dit positiewe merke. Ek dink hy gaan sommer nog ‘n eersteklas-bosseuntjie word.
Die groot skrik van die vakansie? Vir Michael was dit ongetwyfeld die dinge hierbo genoem. Maar Tokkie het dalk die grootste skrik weg…. ek het haar nog nooit so benoud hoor uitroep nie. Die rede was ‘n enorme swart mamba, langer as syself, wat onder die sementpaadjie by die swembadtrappies ‘n wegkruiplekkie gevind het. Toe sy met haar harde sool amper op hom trap, peul hy as’ t ware onder haar voete uit en seil kronkelend weg in die katjiepiering se rigting. Ek was betyds om sy laaste maneuvers waar te neem.
Tokkie se lugtigheidsvlak is sedert daardie amperse konfrontasie heelwat hoër as gewoonlik. Toe ‘n geitjie die volgende dag uit die dak tuimel tot op ons bed het sy hoog gespring!
Die grootste skouspel was ongetwyfeld nou die middag se optog oor die Sabie deur die 200 buffels en 20 olifante. (Ek onthou die Picassa-album wat belowe is.) Die piekniekplek het egter ook vir ander hoogtepunte gesorg, soos die leeus wat oor en oor gekom het, olifante in oorvloed en die groot verskeidenheid wild wat ons in vrugbare ure daar gesien het. Wonder hoeveel ander Sabieparkers het al die Vyf Grotes by die piekniekplek gesien.
Die grootste bokkerop sedert Perdeberg was natuurlik die leeuvangs by die piekniekplek wat die Van Deventers weens ondeurdagte haastigheid met ‘n skrale vyf minute misgeloop het. Swak Piketberg!
Ek het hierbo na die kleinkinders verwys. ‘n Buiging na hul ouers is darem ook gepas. In die tien jaar van Sabiepark toe kom, was hierdie die bedrywigste vakansie aan die kinderfront, met eers Brent en Marisa (plus Jacob en Thomas en die nuwe enetjie wat op pad is), toe Johan, Mariza en Michael. Vir die ou gryse was dit heerlik om so bederf te word met die skinkery en braaiery elke aand. En pizza uit ‘n Weber smaak vorentoe – dit weet ek nou.
Wat die Wildtuin betref, was die twee ure van betowering met die olifante, njalabulle, seekoeie, krokodille en swetterjoel watervoëls – blaai net so ‘n bietjie terug – ‘n blink, blink hoogtepunt.
Sondag was ons Satara toe waar die gerestoureerde rondawels met hul private braaiplekkies ‘n aangename verrassing was. Op pad het ons in die Maroelaloop ‘n luiperd gekry wat ‘n sivetkat in ‘n boom opgehys het. By die Welverdiend-watergat op die Swenipad het ons ‘n kortstondige paring tussen ‘n leeupaar aanskou. Die ou maanhaar is gou grommend afgeskud. Weet nie of dit “welverdiend” was nie!
Op die Trichardtpad het ons vier renosters gekry – ook ‘n ma en haar kleintjie. Die vier draf seker nou nog – iets aan die naderende voertuig moes hulle erg ontstel het. Tussen Skukuza en Tshokwane was ‘n reuse-trop buffels.
Op ons lang “spesielys” ( amper 40 vir die een ‘n halwe dag) is ‘n kroonarend met sy Afro-kuif – ‘n eerste vir die Van Deventers. Ons het ook gompoue, berghane wat baklei oor ‘n kossie in die gras, bromvoëls en ‘n boskorhaan gesien. ‘n Kenmerk was die baie fisante en patrysies. Een fisantjie het naby Satara soos ‘n verkeersman met ‘n valskerm uit die lug op die enjinkap neergedaal en die Honda se lisensieskyfie deeglik betrag
Van voëls gepraat – Satara se A-blok was werklik in daardie opsig ‘n fees met o.m.kuifkophoutkappers, pylvlek-katlagters, groenvlekduifies en buffelwewers (voorheen aan ons onbekend).
Die wintervakansie van 2008 sal nie maklik oortref word nie. Sabiepark en die Wildtuin sal moet uithaal om vanjaar se vertonings selfs net te ewenaar. (HvD)
2008-08-26 14:24:50 GMTComments: 0 |Permanent Link
Entry for August 21, 2008 ![]() More uit Sabiepark
TONEEL UIT SERENGETI
Soos ‘n toneel uit die Serengeti van my verbeelding (ek was nie self daar nie) was dit Dinsdagmiddag 19 Augustus skuins voor vyf toe ‘n trop van minstens 200 buffels en sowat 20 olifante by Sabiepark se piekniekplek saam die Sabierivier oorsteek.
‘n Arme kiewietpaar was radeloos toe eers die hoewe van die buffels en daarna die groot voete van die grootvoete hul nessie op ‘n sandbankie in die rivier fyn trap. Hul verslaenheid en dapper pogings tot weerstand het aan die hart geruk.
Die enkele gelukkiges wat verruk daardie natuurskouspel waargeneem het – die Van Deventers (ook ons seun, Johan, Mariza en Michael), Anne en Ria Weiland van die Rand, ‘n Oostenryker en sy dogtertjie op sy skouers en Solly Sibuyi, die piekniekterrein-opsigter - kon nie ophou foto’s neem en mekaar gelukwens met die grootsheid van hul gedeelde ervaring nie.
Toe ons opdaag, was die buffels swart spikkels in die uitgestrekte rietland aan die oorkant van die rivier voor die uitkykdek. Die olifante was versprei ten weste van ons aan ons kant van die rivier. Verbasend vinnig het eers die buffels en darna die olifante begin konsolideer.
Toe die voorhoede van die buffels die water binnegaan, was die olifante nog aan die duskant. Maar hulle is vinnig oor die rivier en op ‘n drafstappie voor ons verby. Die buffels was in daardie stadium in die naderende skemer al ‘n dik swart streep in die blou water.
Die groot verrassing was toe die olifante op die spoor van die buffels weer links swenk en ‘n tweede keer binne tien minute of so weer die water indons, die keer in die teenoorgestelde rigting as flussies – asof iets hulle dryf om by die buffels uit te kom.
Ons het nie lank gewag nie. Enkele oomblikke nadat die eerste ou grotes die rivier in is, was hulle kort op die buffels se hakke en nog oomblikke later het die voorstes die agterste buffels ingehaal en begin verbysteek.
In ‘n stadium was dit net buffels en olifante deiurmekaar – soos ek nog nooit beleef het nie. Die foto hierby slaag nie werklik om so alleenstaande die treffende toneel uit te beeld nie. As ek terug is in die Kaap – na 28 Augustus – sal ek ‘n spesiale Picasa-album oor daardie dramatiese Dinsdagmiddag op my webwerf, www.hennievandeventer.com plaas.
By dieselfde piekniekplek het ons die vakansie leeus, leeus en nogmaals leeus gesien – onder meer twee vangste (‘n rooibokkie en ‘n buffel), asook luiperds en renosters. Al vyf die Vyf Grotes het ons ingenome Sabieparkers met gereelde besoeke vereer.
Dar was soms ook pragtige dieretonele van ‘n verskeidenheid van ses, sewe, agt spesies saam kom water drink - iets wat ek ek laas in Etosha gesien het.
Ons glo ons piekniekplek en ons uitkykdek bied die beste wildbesigtiging langs die ganske Sabierivier. Iemand wat daardie aanspraak in twyfel wil trek, sal moet uithaal en wys. (HvD) 2008-08-22 06:34:47 GMTComments: 0 |Permanent Link
Entry for August 20, 2008 ![]() HvD (links), Herman le Roux en sy vrou, Rina, saam in ons boshuis Tarlehoet se swembadjie in Maart 2008.
More uit Sabiepark
‘N GLASIE OP DIE ALL BLACKS!
Oor die redes vir verlede Saterdag se bloedneus op Nuweland is sedertdien lank en uitvoerig geredekawel. Hier aan die suidpunt van Afrika is ‘n geween en ‘n gekners van rugbytande soos lanklaas. Twee van die insiggewendste bydraes wat ek oor die groot pak slae onder oë gehad het, kom van twee gerekende rugbyskrywers uit vorige eras, my oud-kollegas Herman le Roux en Frikkie van Rensburg. Niemand minder nie as Mnr. Rugby self, dr. Danie Craven, het hulle in die 80’s as die beste in die land uitgesonder. Frikkie benader sy sienswyse uit ‘n statistiese hoek – hy is deesdae ‘n rugby-statiskus van faam daar in Bloemfontein. Herman noem weer die spul foute op wat begaan is. Sonder hul medewete gaps ek hul beskouings wat my per e-pos bereik het, vir hierdie rugbyblog. Volgende keer kom die bos weer in HvD se Blog aan die beurt. Frikkie draai nie doekies om nie dat die All Blacks die Springbokke deesdae oor is en dat sommer baie hard gewerk sal moet word - sonder die inmenging van politici, iets wat ons maar op ons magies kan skryf en doodvee - om Suid-Afrikaanse rugby weer te kry waar dit teen die einde van 1998 was, VERAL t.o.v. die All Blacks. Tóé het SA en NS met 24 seges elk, en met 3 gelykop-wedstryde, gelyk getrek, nadat SA tot ná die 1981-toer die botoon gevoer het. Die draers van die groen en goud het 20 van hul 37 toetse tussen 1921 en 1981 teen NS gewen. NS het in daardie stadium 15 gewen het en 2 was gelykop. 'n Droewige verhaal teen die Kiwi's het hom sedert SA se hertoelating in 1992 begin ontvou, maar ons kon aan die einde van 1998 darem steeds saamgesels - 24-24-3! SA was tóé die enigste land wat kón spog dat hy net soveel toetse as die gevreesde All Blacks kon wen.
Tussen 1937 en 1949 was SA in 6 agtereenvolgende toetse teen NS aan die wenkant. NS het weer tussen 2000 en 2004 in 8 opeenvolgende toetse koning gekraai. Van 1992 af het NS onse Bokke erg gekarnuffel, en is 'n oorwinning oor die draers van die silwervaring 'n uitsondering – trouens 'n GROOT SELDSAAMHEID! Van die laaste 38 toetse sedert 1992 het NS 27 gewen. Een was gelykop. Die heerlike Bok-sege onlangs op Carisbrook in Dunedin was slegs die 10de in dié 17 seisoene! Frikkie meen die statistieke gee 'n goeie idee waar presies SA hom ná die Nuweland-slag op 17/8/2008 in wêreldrugby bevind, ál is ons die huidige houer van die William Webb Ellis-beker, én al was die Aussies in 1999 die kampioen en die Engelse Rose in 2003. Die statistieke wys dat Nieu-Seeland tussen 2000 en Saterdag se groot slag op Nuweland in presies 100 toetse gespeel het, waarvan hy 82 gewen het - 'n 82%-suksessyfer. Die vier ander top-spanne baklei maar om die tweede plek uit, én is ver agter: Tweede is Engeland (65.35% - 101 toetse gespeel); derde Australië (63.37% - 101 toetse gespeel); vierde Frankryk (61.90% - 105 toetse gespeel); vyfde SUID-AFRIKA (59.26 % - 108 toetse gespeel). Die algehele prentjie lyk beter vir SA as alle toetse van die begin af in berekening gebring word. Dan is NS weer eerste met 'n ewe indrukwekkende gemiddelde sukses-syfer van 74.14% in sy 437 toetse sedert 1903. Tweede is SUID-AFRIKA (63.19% - ná 364 toetse sedert sy eerste toets in 1891). Dan volg: 3. Frankryk (54.56% ná 636 toetse toetse sedert 1906); 4. Engeland (53.13% ná 608 toetse sedert 1871); 5. Australië (wat onlangs eers die 50%-kerf oorgesteek het - 50.31% ná 483 toetse sedert 1899). NS is die enigste rugbyland wat 'n positiewe rekord teen AL die ander lande het - maw meer toetse gewen as verloor. Frikkie raai ons aan om maar ‘n glasie te klink op Nieu-Seeland se rugbytrots, die All Blacks. Volgens hom kan hy nie sien hoe enige van die top-spanne kan droom om in 2011 die William Webb Ellis-beker uit Auckland te kry nie. As 'n mens 'n beste span uit die wenspanne van 1999 (Australië), Engeland (2003) en Suid-Afrika (2007) kón kies, sal só 'n span dalk ná 'n maand se oefenkamp die Nieu-Seelanders in 2011 in Kiwi-land na die kroon kan steek., meen hy. Herman, ‘n voorganger van Frikkie as sportredakteur van Die Volksblad en later ook sportredakteur van Beeld, bedank in sy antwoord vir Frikkie vir sy “uiters deeglike statistiek” en beklemtoon dan veral die onnodige foute wat op Nuweland began is. Wanneer ‘n mens die spelers se individuele vertonings bestudeer, dan blyk dit volgens hom dat die meeste een of meer onnodige foute begaan het wat die Bokke duur te staan gekom het. SA het gans te veel besit afgestaan. En dan wonder hy steeds hoe de d…. die All Blacks met of sonder die hulp van die skeidsregter die bal steel/uitgrawe wanneer dit lyk of die Bokke beheer het. Hy gee die volgende opsomming vn die ergste foute: Daardie eerste afskop van Butch James. Percy Montgomery se swak skoppe pale toe (met ‘n nog korter aanloop as normaalweg). Naas Botha sê ‘n mens moet ‘n aanloop hê. Nie net een tree nie. Percy se wisselvallige skoppe na die grenslyn. (Kan hy nie maar langs die linkerkantse grenslyn die bal met die regtervoet twintig tree ver uitskop as met die linkervoet die bal laat inkrul in die opposisie se hande nie? Bryan Habana wat die bal uit sy hande laat val ná ‘n hoë skop. Adrian Jacobs wat man-alleen met ‘n gestoei die doellyn probeer haal, met ‘n paar manne links van hom in ‘n beter posisie. Fourie du Preez se regstreekse skop oor die grenslyn, net voordat hy afgehaal is. Twee, drie aangeë wat nie in die vleuel se hande beland het nie. Veral Butch James se aangee na Conrad Jantjes. Maar waarom kon Jantjes nie in posisie kom nie? Jean de Villiers se wilde aangee wat onderskep is. Moenie Francois Steyn blameer dat hy die diep ingooi gewaag het nie. Andries Bekker, wat ‘n bal wild na agter gooi, waar ons moet rondskarrel om te keer. Bekker se aanslaan in die lynstaan. Januarie se aanslaan agter die losskrum en Juan Smith wat dit in ‘n onkantposisie optel. So kan ‘n mens aangaan en aangaan, sê Herman …. maar dit bly ‘n lekker “game”. Daarmee stem ek van harte saam, en is dit nie nog lekkerder nie as ‘n mens agterna sulke kundige ontledings van kenners kan lees? Dankie daavoor, Frikkie en Herman, en jammer vir die eiereg wat ek gebruik het om dit op my blog te sit. (HvD) 2008-08-20 09:42:15 GMTComments: 0 |Permanent Link
Entry for August 17, 2008 ![]() Langnek moes net vinnig rem Of hy was in vir ‘n koue swem!
Middag uit Sabiepark
DIERE SE RARE GIERE EN MANIERE
Kyk, seekoeie ken die kuns om lui te lyk. Tienstuks van die luiste lui lummels in ‘n kuil naby Onder-Sabie het die inspirasie vir die volgende Wildtuin-versie verskaf:
Een oefen kliphard Om wydbek te gaap, Die ander lê heeldag In die water en slaap; Waaraan ly darie Luie donders? Wrintiewaar….. Dis hippo-konders!
Sabiepark se hiënas word oor naweke en in vakansies gruwelik deur onnadenkendes met “beentjies” en allerlei ander happies van hul vleisbraaivure af verwen. Wanneer daardie onverantwoordelike garde oppak, sit ons ander arme drommels met die oorlas van gulsige diere wat vroeg-vroeg hoopvol om ons huise begin sluip en snuffel vir ‘n oorskietkossie.
Na sovele sulke onwelkome besoeke het ek my frustrasie met die “beentjie”-bederwers se aktiwiteite soos volg verwoord:
Hope bedorwe, honger diere Sluip van vroeg af om die vure; Waar is tog nou die “beentjies” Van die naweek-spyseniere?
Oor die jare het ek ‘n vrag versies oor diere en hul maniere geskep – meesal sommer as ‘n vorm van tuisvermaak net vir eie konsumspie en plesier, soos die twee hierbo. Vir die tweeling-kleinkinders, Jacob en Thomas (nou vier), het ek ‘n jaar of wat gelede ‘n bos-bundeltjie saamgestel met foto’s van ‘n verskeidenheid wilde diere en ‘n versie oor elkeen. Die titel is “Innibos saam met Oupa”.
By die Van Deventer se huis in Sabiepark is twee van die gewildste gereelde besoekers die nagapies en die duikertjies. Natuurlik is hulle ook van die kinders se groot gunstelinge. Oupa moes eenvoudig oor albei versies maak.
By die foto van ‘n oulike nagapie in die gewone pendoringboom voor ons huis waar die tafel elke aand vir die ratse nagdiertjies met piesangskyfies gedek word, lui die versie:
Die nagapies dink: O jinne, ons droom – Hier groei dan piesang Aan ‘n pendoringboom!
En by ‘n foto van “ons duikertjie” by sy pitjies wat hy so klokslag soos ‘n Japanse sneltrein by die voëlbadjie kom soek:
‘n Hand vol pitjies is soet soos suiker vir ‘n lekkerbekkie soos Witnek die duiker.
Diere wat drink, het vir groot en klein bekoring. Onder my “drink-versies” is een oor sebras, een oor kameelperde en een oor ‘n skilpad wat sy dors by ons watergat kom les.
By die foto van ‘n sebra-tjie wat stampend en stotend aan sy mamma staan en drink lui die versie:
Die honger klein sebra’tjie Trek sy mamma ‘n streep, Kry haar uier styf vas In ‘n sjoe-einatjie-greep.
By die foto van ‘n kameelperd se komieklike kontorsies om die water by te kom:
Kameelperd buig sy lange nek, Knak sy knieë, rek en strek, Eers dan kan hy die water Deur sy “strooitjie” optrek. .
En by die foto van die skilpad by die watergat:
As jy dors raak, ou Skillie, Hou tog goed kop Drink dan behaaglik … ‘n Lang stywe dop
Bo is van nagapies en hul voorliefde vir piesang melding gemaak. Ook vir die veel groter bosnagaap is piesang ‘n vingerlek-lekkerny. Die nagapies weet skemertyd hulle moet roer. As die ou grote met sy wolstert later opdaag, verdwyn die oorblywende skyfies piesang in ‘n vinnige tempo. Ook oor hom is ‘n foto en ‘n versie in Oupa se “Innibos:-boekie:
Met sy bieliestert Is bosnagaap ‘n Apie-meneer Van ‘n ander kleur; Voordat jy kan tel tot tien Draf hy deur ‘n piesang Soos ‘n dorsmasjien.
My enigste versebundeltjie wat op boekwinkels se rakke was, is “Polisie, Polisie, Ons Reënboog is Geroof” waarin oneerbiediglik gehekel word met alles onder die son: as ‘t ware van die politiek tot rumatiek. Ook daarin verskyn enkele diereversies.
Vir oulaas – en sommer net vir die pret, - die volgende vier:
Volstruis
Ou volstruis se hart is seer, Hy hoor die boodskap keer op keer: Stoffers is jul, en Tot stoffers sal jul terugkeer!
Renoster
Oral in die Wildtuin lê hope renostermis, Oral ry jy die hope renosters net mis.
Paddas
So waar as padda manel dra, Elke liewe nag in die ruskamp Letaba hou ‘n magdom paddas ‘n reuse-padda-indaba.
Slang
‘n Groot krokodil dié maak my ril, ‘n Spinnekop trek my maag op ‘n knop, Maar, mens, ek skrik my waarlik bevange Vir al Mpumalange se gevaarlike slange.
Fluit-fluit, op daardie grillerige noot is hierdie versieblog uit! (HvD)
2008-08-17 12:39:27 GMTComments: 0 |Permanent Link
Entry for August 12, 2008 ![]() More uit Sabiepark NOU'S DIT: MEER VAN BETOWERING Vir Lake Panic – my “Meer van die Drie Raaisels” (blaai net effe terug) – het ek ‘n nuwe naam: Lake Magic – Meer van Betowering. Die “drie raaisels” het nou “vier vreugdes” geword. Soos die onbekende outeur wat sy verwondering op die toonbankie van die voelskuiling by Skukuza uitgekrap het, kan die Van D’s ook nou ingenome verklaar: wat ons hier gesien het, oortref verbeelding. Twaalf-stuks olifante, waaronder vier kleintjies, twee sierlike njalabulle, ‘n proesende seekoei onder ons voete en ‘n krokodil wat al om die skuiling swem, het vir twee sublieme ure langs die water gesorg. Moenie die gewone verskeidenheid watervoëls en en bosbokkies versmaai nie. Soos altyd het hulle die teenwoordiges se kanonlense oortyd laat werk. Dawie Strydom, Wildtuin-veteraan van baie winters, was saam. Sy kommentaar was kort en kragtig: “’Die hoogtepunt van al my besoeke.” Ja, Dawie, dit was bepaald ook in die Van D’s se boekie van die wonderlikste van wonderlike Wildtuin-momente oor ‘n tydperk van drie dekades of langer. Die aksie is ingelui toe die olifante soos skimme uit die bos kom en onverstoord op die eilandjie voor ons kom wei – naby genoeg om elke brekende takkie te hoor en elke ou grote haarfyn van slurp tot stertjie te bestudeer, selfs die wimpers. ‘n Broeipaar groenrugreiers, waterdikkoppe en kiewiete moes verontwaardig skarrel. ‘n Stuk van die reiers se nes het voor ons verby gedryf. Later was dit tyd vir waterpret, met gevorderde swemlesse as deel van die kurrikulum. Die moeders kies koers oorkantste wal toe en die kleintjies moet eenvoudig agterna, hul slurpies soekende na die troos van moeder-nabyheid en uiteindelik met net die tippies soos snorkeltjies bo die water. Asem is opgehou elke keer as ‘n kleintjie pens en pootjies onder die water verdwyn. Die verligting was groot as die klein nat lyfie – soms met die hulp van ‘n flukse tiener – heelhuids anderkant vaste aarde bereik. Jong olifante wat sonder ouerlike of gesinsverantwoordelikheid die oortog kon aandurf, het hul eie onvergeetlike bydrae tot die uitsonderlike skouspel gelewer deur heerlik, sonder inhibisies, voor ons te plas en te speel. Wonder wie die spelery die meeste geniet het: hulle of ons! Die twee sierlike njalabulle het lank kom drink en wei, met hul horings in die modder gegrawe en selfs in ‘n stadium ‘n ligte misverstandjie met klappende horings besleg – alles oop en bloot, sonder kenmerkende beskroomdheid. Die opgewonde kamerabrigade kon net bly kliek en kliek. Van die seekoei onder ons voete was ons die hele tyd bewus. Die patrone op sy skurwe vel is deur die skrefies tussen die vloerplanke bestudeer. Die werkinge van sy spysverteringstelsel het nie net vir geluide gesorg nie! Net toe ons reken die oggend se aksie is oor, kry hy die bevlieging om uit sy skuiling te kom. Dit doen hy al blasende. Dit dawer en dreun. Die water spat in boë. Nabyfoto’s van seekoeie het na die vertoning vir my ‘n ander betekenis as tevore. Die krokodil in die water het in die lig van al bogenoemde minder impak gemaak. Hy was ‘n stil krokodil! Van die Japanse nooientjie langs my in die skuiling het die knoetsige lyf in die water egter haar eerste kommentaar so tussen die fotonemery deur uitgelok. “Croc, croc, croc!” het sy hard uitgeroep en haar lens amper in my oog gedruk soos sy dit met mening na sy kant toe swaai. ‘n Wildtuinrit Onder-Sabie se kant toe het enorm baie seekoeie, impalas en sebras opgelewer – soos in die “goeie ou dae”. Die ononderbroke tou sebras was twee, drie kilometer lank. Ons net ook twee swartrenosters (ongetwyfeld) en ‘n vaalribbok-ma en –baba raakgeloop – albei eerstes. By Sabiepark se piekniekplek is dit steeds ‘n fees van wild, met leeus, olifante, seekoeie, kameelperde, koedoes, sebras, blouwildebeeste en hope impalas wat kom en gaan. Soveel spesies op een dag het ons nie voorheen daar gesien nie. Die inwonde leeutrop lei die arme rooibokkies ‘n lewe. Hulle kom in groot spanning af water toe en laat spaander telkens verskrik voor die leeugevaar. Die jongste vangs was egter nie ‘n impala nie, wel ‘n gryse ou buffel met ‘n mank been. Die vangs was agter die riete. Ons moes omry S3 toe om die feesmaal van die leeus waar te neem. Dit was die tweede keer in derttig jaar dat ek sien hoe welpies tot binne ‘n buffelkarkas klim agter die beste vleis aan. By ons boshuis,Tarlehoet, het die verskyning van die eerste groen pendoringboomblaartjies die kameelperde vinnig laat toeslaan. Eers het die ou bul alleen gekom en hom trommeldik ge-eet. Die volgende oggend toe ons opstaan, was drie volstoom aan die kou. Later het dieselfde drie weer ‘n draai gemaak en die baba saamgebring. Die takke is kaal gestroop soos deur ‘n dorsmasjien, Maar die foto’s! Een ou stap feitlik binne-in my lens in. Uit die Wildtuin (en Sabiepark), soos uit Afrika, kom maar altyd iets nuuts. Wonderlik! (HvD)
2008-08-12 11:56:58 GMTComments: 0 |Permanent Link
|
|||